top of page

As jy deel is van die regering, moet jy kollektiewe verantwoordelikheid aanvaar

As jy deel is van die sogenaamde Regering van Nasionale Eenheid, is jy, volgens my begrip, deel van die kollektiewe entiteit wat openbare beleid bepaal. Openbare beleid, soos dit tans in Suid-Afrika bestaan en toegepas word, sluit in regstellende aksie, Swart Ekonomiese Bemagtiging en onteiening sonder vergoeding.

Partye wat nou deel is van die regering, met ander woorde, van die kollektief wat die openbare beleid van die land bepaal, ingesluit die transformasiebeleid, kan nie langer ontskuldig pleit aan die gevolge van daardie openbare beleid, waarby hulle hulle nou geskaar het nie.

Waar is die beginsels? Waar is die respek vir kiesers? Beide die Demokratiese Alliansie, sowel as die Vryheidsfront Plus, het kiesers voor die verkiesing hand-en-mond beloof dat hulle nie met die ANC sal saamwerk nie (en spesifiek die Vryheidsfront Plus het met oorweldigende minagting gepraat van selfs net die moontlikheid daarvan).

Feit van die saak is dat beide hierdie politieke partye nou met die ANC geassosieer het.

In die toekoms sal ek derhalwe van die DA sowel as die Vryheidsfront Plus dieselfde vrae vra wat ek van die ANC vra: Hoekom die verval van dienslewering in munisipaliteite? Wat het julle gedoen om die verval in infrastruktuur te verhoed? Wys vir my die suksesse van regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging. Julle, DA en Vryheidsfront Plus, is nou mede-verantwoordelik vir openbare beleid, en die gevolge daarvan.

Kyk, omdat ek tradisioneel vir die DA en Vryheidsfront gestem het, en dat ek met hulle geassosieer het, beteken nie dat ek enige seggenskap oor hulle het nie; hulle kan maak wat hulle wil, sonder my toestemming of goedkeuring. Maar as hulle deel uitmaak van die kollektief wat ek glo my benadeel, gaan ek hulle in die toekoms diensooreenkomstig assosieer (en verantwoordelik hou).

Hierdie partye het die gewoonte om hulle brood aan albei kante gebotter te hê; hulle wil maak soos hulle wil, maar vir nie aanspreeklik gehou word vir enigiets wat verkeerd gaan nie. Nou het hulself deel gemaak van die regering, en moet hulle verantwoordelik gehou word vir die dade (en gebreke) van die regering. Ek stel nie ʼn duit belang in hulle mooipraatjies oor “insette lewer tot die proses” en ander nonsens nie. Hulle is nou regering, en ek sal antwoorde van hulle eis. Hulle is deel van die kollektief.

Hier is my punt: Ek is van mening dat regeringsbeleid in Suid-Afrika brutaal teen my diskrimineer, op grond van my ras. Ek wil gelykberegtiging hê, sonder diskriminasie. Ek glo dat die regering teen my diskrimineer. Dit het ingrypende gevolge in my lewe gehad, en nog erger gevolge in die lewens van ander mense uit my gemeenskap. As jy deel is van die regering, hou ek jou mede-verantwoordelik vir wat ek ervaar as diskriminasie. Punt.

Comments


bottom of page