Deelname aan die Regering van Nasionale Eenheid: Die politiek van eiebelang
- Frans Minnaar
- Mar 11
- 3 min read
Niks sal die DA en die Vryheidsfront Plus uit die Regering van Nasionale Eenheid kry nie.
Vir John Steenhuisen het ʼn nuwe wêreld oopgegaan die dag toe hy Xi Jinping se hand kon skud. Hy blom wanneer hy kan sê dat hy “pas uit Devos geland het.” Sy gereelde ontmoetings met die President, tot wie hy nou geredelike toegang het, is skynbaar die vervulling van ʼn lewensdroom.
Pieter Groenewald blom in die mag wat hy skielik gekry het as ʼn Minister, en dan, veral, in die reputasie wat gevestig was dat hy so uitstekend is in sy werk. Hy staan uit. Hy is die Sterkman in die Kabinet; wel, miskien saam met Gayton McKenzie.
Dit gaan alles oor die mag, die invloed, en (veral) die blou ligte en die aansien.
As die BELA wet, die Onteieningswet, die Nasionale Gesondheidsversekering en die twiste oor die land se benadering tot Rusland, nie die DA en die Vryheidsfront kon dring om die Regering van Nasionale Eenheid te verlaat nie, sal niks dit regkry nie.
Dit gaan nie meer oor Ideologiese Politiek nie, maar oor Persoonlike Belang Politiek.
Ek gee nie ʼn snars om vir John Steenhuisen of Pieter Groenewald, of enige van hulle “ons tyd om te eet”-meetlopers nie. Hulle persoonlike ambisies gaan my nie aan nie (en skynbaar staan dit my ook nie aan nie, gegewe wat nou aangaan). My vraag is net: Waar los dit my, en andere wat hulle in my demografiese en sosio-politiese omstandighede bevind?
Die antwoorde:
-- Die Bela wet gaan my taal en kultuur net nog verder ondermyn, en ouers se inspraak op die skolering van hulle kinders ondermyn tot op ʼn vlak waar dit op institusionele vlak heeltemal sal verdwyn, en waar die gebruik van skole om Ideologiese indoktrinasie op skoolkinders af te dwing, ʼn toppunt sal bereik (met spesifieke verwysing van eensydige interpretasie van die geskiedenis, Kritieke Rasseteorie en Sosialisme).
-- Die Onteieningswet beteken dat Blanke Suid-Afrikaners se eiendom, en dan spesifiek grond, enige tyd met geen vergoeding weggeneem kan word (ja, dit geld vir alle Suid-Afrikaners, maar geen geheim word daarvan gemaak dat dit eintlik gaan oor bates in Blanke hande nie). Dit beteken dat die korrupte politici hulself kan help aan waardevolle plase (en ander bates, onder die dekmantel van “transformasie” en “openbare belang”). Dit beteken geen betekenisvolle internasionale beleggings in die Suid-Afrikaanse ekonomie nie, en die ontrekking van nog meer groot maatskappye.
-- Die instelling van die Nasionale Gesondheidsversekering beteken dat die land binne ʼn dekade totaal bankrot gaan wees. Die geld gaan nie eerstens op gesondheidsorg spandeer word nie, maar op politiek-gekonnekteerde tenderpreneurs en op kaders. Dit beteken dat 75% van medici wat hulle sout werd is, uit die land gaan vlug. Dit beteken dat die kwaliteit van mediese sorg, in sowel as die openbare – en privaatsektore, in Suid-Afrika sal verval tot in die varkhok.
Maar Steenhuisen en Kie verkondig wyd en syd dat, sonder hulle ekonomiese herstel en werkswerlskepping nie moontlik is nie. Verskoon my, maar watter twak is dit? Dit gaan nie die oor die DA se teenwoordigheid in ʼn regering van Nasionale Eenheid nie; dit gaan oor die invloed wat hulle veronderstel was om uit te oefen op daardie beleidsrigtings wat mense se lewens sou raak, en wat beleggers sou oortuig om in die land te belê. As hulle dit nie kan doen nie, wat maak dit saak of hulle die DA of ANC genoem word?
Ek sal jou, geagte leser, sê wat die verskil maak: Blou ligte, titels, aansien, groot salarisse en enorme ego’s.
Kom ons aanvaar, vir ʼn moontlik, dat u ʼn passievolle ondersteuner van die DA, of Vryheidsfront Plus, is, en (met ʼn gevoel van irritasie en woede) alles verwerp wat ek in hierdie artikel kwytraak. As u party se deelname aan die RNE u nie kan beskerm teen die benadeling van die ANC se Ideologiese wette nie, watter verskil gaan dit in u lewe, of aan u belange, maak?
Dit is goed en wel om die argument uit te maak dat daar geen ander alternatief is nie. Maar gaan sodanige argumente enige van die komende rampe afweer?
Die ANC is ʼn rewolusionêre beweging; hulle kyk waarmee hulle kan wegkom. Hulle maak geen geheim daarvan nie. Solank jy hulle vuur stook, sal dit aanhou brand (tot as). Dit is beter om die werklikhede in die oë te kyk en te veg (of, alternatiewelik) te vlug.
Prentjiebron: Inside Politic
Comentarios