top of page

Demokrasie is oor eiebelang. Hier is my "eiebelang".

Die politieke gaan oor eiebelang. Wanneer kiesers gaan stem, vra hulle: "Wat is die beste vir my?".

Dit is nie in my belang om teen gediskrimineer te word nie. Die verskil in woorde van "gelyke indiensneming" en "die bevordering van voorheen-benadeeldes" maak aan my geen duit verskil indien dit impliseer dat ek uitgeskuif gaan word nie, en nie gelyk behandel gaan word nie.

Vir my is Cyril Ramaphosa se rasse-politiek suiwer rassisme. Ek gee nie 'n duid om vir John Steenhuisen se politieke aspirasies nie. Moet asseblief nie die argument teenoor my gebruik dat die “DA minstens beter sal wees as die ANC” nie. "Demokraties-gesproke" is dit nie die "die beste" vir my om enigiemand se politieke loopbaan te bevorder nie.

Die DA gaan ons nie red nie. Die “Government of National Unity” gaan ons nie red nie. Dieselfde met ActionSA en die PA.

Enige party wat beloof om teen my te diskrimineer is vir my die antagonis; die skepper van risiko’s. Ek het genoeg gehad van die gelegitimeerde, gewettigde diskriminasie wat ant-Wit narratiewe in Suid-Afrika geword het. Ek dink nie daar is enige regverdiging in die inherente rassistiese aannames onderliggend aan "Critical Race Theory" nie. Ek is nie bewus van enige stuk wetgewing sedert 1994 wat nie vereis, 'n statutêre verpligting plaas, om teen Blanke Suid-Afrikaners, soos ek, te diskrimineer nie. Dit is 'n suiwer rassistiese owerheidstelsel.

Die DA is nie beter nie. Ek is nie geïnteresseerd in ʼn “afgewaterde” vorm van uitsluiting en demonisering nie. Al wat vir my aanvaarbaar sal wees, is die gebrek daaraan, om dit uit die Suid-Afrikaanse politieke stelsel te haal. Gelykheid wat gelykheid beteken.

Niemand het vir my gevra, in 1994, of ek bereid is dat daar gruwelik teen my gediskrimineer mag word in my toekoms in hierdie land nie; dit is op my afgedwing. Dit het Roelf Meyer, die “hoofonderhandelaar” namens my gedurende die 1990’s oorgangproses, minder as ʼn jaar geneem om ʼn warm, knusse plekkie te vind tussen diegene teenoor wie hy veronderstel was om my te “beskerm” gedurende daardie onderhandelinge. FW de Klerk, met sy Griekse vrou wat hy afgevry het van haar man terwyl hy en sy nog getroud was, het aangehou om lawwe, onrealistiese beloftes aan wit kiesers te maak oor ʼn stelsel van “grondwetlike beskerming.” Beloftes wat hy geweet het nooit sou realiseer nie. Dit is hierdie onbetroubares, desperaat smagtend na helde-status in die internasionale gemeenskap, wat die skuld moet dra vir die gruwelike diskriminasie wat my toegeval het sedert 1994; dit, en die ANC wat glo, en deur die jare toenemend begin optree het, as die "oorwinnaars" in 'n rewolusionêre stryd.

Kom ek stel ʼn hipotetiese vraag: As ek sedert die 1980s teen die veranderinge in die land gestem het; nooit daarin ingestem het nie, maar met onstellende akkuraatheid die verval en vervreemding wat in die land plaasgevind het voorspel het, het ek nie nou die reg om te sê: “Ek het julle gewaarsku nie?” In alle regverdigheid is dit presies wat die sogenaamde “regses” nou kan doen.

Die diskriminasie van apartheid moes beëindig word, maar die vervanging daarvan deur die diskriminasie teen Blanke Suid-Afrikaners, en die vernietiging van hulle volksidentiteit, simbole en kulturele eiendomsreg is nie minder gruwelik nie. Diskrimasie teen die meerderheid is bloot vervang deur diskriminasie teen die minderheid. In ander Westerse lande het dit gelei tot buergerregte-bewegings, ondersteunende aan die minderheid. In Suid-Afrika het hierdie einste Westerse wêreld bloot die diskriminasie teen die minderheid geignoreer, ontken, goedgepraat en goedgekeur.

Laat ek terugkeer na die aanvanklike argument: Dit is eerstens en laastens, en geheel en al, oor eie belang. Dit is hoekom kiesers vir ʼn bepaalde politieke ideologie stem. My eie belang is nie om teen gediskrimineer te word nie. Alle politieke partye wat tans aktief is in die Suid-Afrikaanse politieke omgewing, belowe om teen my te diskrimineer. Ek kan nie ʼn duit omgee of dit openlike, brutale diskriminasie, of afgewaterde, verskuilde diskriminasie is nie – die sielkundige impak is presies dieselfde. Vir die rekord: In my waardestelsel, die beginsel dat ander demografiese groepe die reg het om teen my te diskrimineer oor iets wat in die verlede gebeur het en waaroor ek geen beheer gehad het nie, is siek. Ek sal dit bie langer gelate aanvaar nie.

Daar is een party wat nie beloof om teen my te diskrimineer nie, is die Vryheidsfront Plus. Alhoewel, dit is ook maar 'n kontensieuse stelling, want die party kan net sowel die Muller-Verwoerd familiekliek genoem word. Verder, die party se maksimum ondersteuningsvlak is 2,5% van Suid-Afrika se bevolking. Vergeet van hierdie malle praatjies dat dit party nou een van die “groottes” is. 2,5% Is klein. Punt. Magteloos. En die leierskap is oud, beroepspolitice, in die Parlement sedert 1994, met bloedwienig begrip oor hoe gewone Blanke mense in Suid-Afrika vandag gedwing word om te leef. Hulle bevorder hulle eie seuns en familie in die politiek. Net soos die ANC, net in ʼn veel kleiner kring.

Die sentrale vraagstuk in Suid-Afrikaanse politiek, waaroor verkiesings eintlik gaan, is: Wie sal die meeste teen Wit Suid-Afrikaners diskrimineer? Dit is al jare lank so, en dit is die rede vir honderde en duisende loopbane wat skielik op ʼn dag in 1994 bevries was. Meerderheid van hierdie gevriesde werkers was uitstekende, produktiewe bates met ongelooflike institusionele kennis. Erger nog, die gevriesde was nog die gelukkiges; gelukkiger as die derduisende wat op brutale, ras-gedrewe wyses uit hulle poste gedwing was (en vandag op groot skaal uitgedwing word). Wat oorgebly het van ʼn trotse groep mense wat die wêreld met waardigheid in die oë kon gekyk het, is verslae, verslane patetiese figuurtjies wat desperaat probeer vasklou aan die krummels wat hulle kant toe gegooi word, en mag nie deur “gelyke indiensneming” en “swart ekonomiese bemagtig” opgeraap was nie. Behalwe die Wit politici in die DA en VF+: Hulle is nog steeds belangrik en waardig (wel, in hulle eie oë, in elk geval).

Laat my dit onmiddellik duidelik, ondubbelsinnig stel: Moenie my probeer verkeerd bewys deur statistiek oor ongelykhede tussen demografiese groepe aan te haal nie. Ek ontken nie swart armoede nie. Ek ontken nie die diskriminasie en onderdrukking gedurende apartheid - of die gevolge daarvan op ongelykhede in Suid-Afrika nie. My punt is dat die gebrek aan regstelling van hierdie gevolge sedert 1994 nie primêr my skuld was nie. Ek het geen beheer oor die hefbome van gesag, mag of toewysing gehad in hierdie tydperk nie. Verder, die ideologie was totaal verkeerde; in plaas van groei en uitbreiding, het al die energie gegaan aan die gedwonge oordrag van bates en diskriminasie teen my.

Laat ek dit duidelike stel: Ek erken diskriminasie teen Wit mense. Daar is ʼn enorme verskil tussen ontkenning van die diskrimasie gepleeg teenoor Swart Suid-Afrikaners en die erkenning van diskriminasie teen Wit Suid-Afrikaners. Dit gaan my verstand te bowe hoe enigiemand kan argumenteer dat daar geen diskriminasie teen Wit mense is in 'n land met meer as 300 wette wat sodanige diskrimiasie wetlik verplig.

Ek rebelleer teen die meting van “vordering” in welvaartspreiding in die land teen die toename van Wit armoede, eerder as die toename van Swart welvaart. En, natuurlik, voortslepende swart armoede is ʼn resultaat van die feit dat die land oor die afgelope 30 jaar ongelooflik swak regeer en bestuur was, en van die feit dat die beskikbare hulpmiddelle (meestal deur rasse-diskriminasie en verpligte oordag van bates) in die hande van ʼn klein groepie regerende elite gestort is, eerder as verdeel onder die armlastiges.

Moenie wit rykdom aan my probeer toegwys nie. Ek is nie ʼn beskermheer van Christo Wiese, die Oppenheimers, die Whitey Bassons, die Anton Rupert en die klein groepie Wit mense met enorme bates nie. Ek is afhnaklik van 'n gewone werk - wat ek nie kan kry nie, omdat die wet van my daarvan uitsluyit. Ek gaan nie probeer om die kanonvoer te wees vir die rykes se bates in die land, en dit teen die dreigement van onteiening en die woede van die EFF en MK te beskerm nie.

Hierdie mense voel niks vir my, of vir die wriemelende kolletjies van wit “nobodies” wat desperaat probeer om die woede van ʼn vyandige regering en die implikasies van korporatiewe gierigheid te probeer verwerk om hulle hongerlone te behou in omstandighede wat deels deur die “Stellenbosch Mafia” geskep was nie. Ek gaan nie gelate al die diskriminasie deur die regering (en sakereuse) aanvaar ten einde die argwaan teen die Wit Monopliekapitaal te verminder en hulle in staat te stel om hulle sakeryk ongehinderd te behou nie.

Ek skryf vanuit die perspektief, en omstandighede, van “mense soos ek.”

Ek is van mening dat daar nie enige noemenswaardige voordeel te verkry is uit deelname aan Parlementêre prosesse nie. Niemand met genoegsame, betekenisvolle mag in hierdie stelsel wil of kan aandag skenk aan my “eiebelang nie.”

Comments


bottom of page