Die Afrikaners waarna Trump verwys het
- Frans Minnaar
- Mar 11
- 9 min read
Ek luister graag na Radio Sonder Grense se program Sondagaande oor politiek van die week. Gewoonlik kry die aanbieder, tans Suzanne Paxton, kommentators wat darem min of meer verteenwoordigend is van die rasse, geslag - en ideologiese samestelling van die Afrikaanssprekende gemeenskap.
Maar verlede Sondag, 15 Februarie 2025, toe President Trump se uitvoerende bevel oor die veroordeling van die Onteieningswet en die verklaring van Afrikaners tot “vlugtelinge” die hoof-besprekingpunt op die program was, was daar geen sodanige oorwegings nie. Dit was baie duidelik wat aangaan: Die ANC en hoofstroom media se vernaamste propaganda media in Afrikaans, RSG, was ten volle gemobiliseer om Afrikaners streng tereg te wys, en om geen onduidelike taal nie te waarsku dat enige poging tot verset nutteloos en self-vernietigende sal wees.
ʼn Slegs-Wite paneel, duidelik uitgekies om die job te doen, en skade-beheer te onderneem, het ingesluit Piet Croukamp, Jan-Jan Joubert en Lindy Koortz. Ja, right, ʼn volkome objektiewe span, slegs maar bestaande uit die mees links-denkende Blank Afrikaanse kommentators beskikbaar in die land. Al wat gekort het om die knusse kringetjie van wysgeërs en versiendes af te rond, was die uwe Max du Preez.
En, Ou Maat, het hulle vir jou gepreek, en streng gewaarsku teen enige poging tot verset! Job wel jode, moet ek seg. Skandelik, skandalig, aan die kant van RSG, maar job well done. Weereens ʼn gruwelike klap in die gesig van ʼn uiters belangrike komponent van diegene wat betaal om RSG op die lug te hou, maar, nou-ja, jy weet, dit is nou mos maar soos dit is deesdae. Niks om jou oor te skaam nie; Afrikaners verdien om teen gediskrimineer te word, weens apartheid, ja – ag, en sommer in die algemeen, omdat die geskiedenis en narratief nou teen hulle gedraai het. Minagting; ag, wie’s hulle tog nou? Geen politieke mag nie, geen morele mag nie. Behalwe, natuurlik, nou, vir die verpestelike Trump...
Nou is daar hierdie reuse debat, gevoed deur hierdie einste linkse kommentators, oor wie nou eintlik as “Afrikaners” klassifiseer.
Eerstens is dit vir my duidelik wie Trump bedoel as “Afrikaners”, naamlik Blanke Suid-Afrikaners wat Afrikaans praat en deel uitmaak van diegene wat sedert 1994 geteiken was deur rasse-wette, waarvan daar meer as 140 in Suid-Afrika is.
Laat my aanhaal uit slegs maar een van hierdie, naamlik die Wet op gelyke Indiensneming:
“black people” is a generic term which means Africans, Coloureds and Indians;
“designated groups” means black people, women and people with disabilities;
Die doel van die wet word dan gestel as “implementing affirmative action measures to redress the disadvantages in employment experienced by designated groups, in order to ensure their equitable representation in all occupational categories and levels in the workforce.”
Kom nou, my hooggeagte slim kommentators, laat ons bloot die drade bymekaar sit. Dit word dadelik duidelik wie Trump bedoel as hy verwys na Afrikaners. Dit is nie ek wat die definisie doen nie, dit is die bedoeling van die wette van hierdie land:
Trump verwys na rasgebaseerde diskriminerende wette. Wette in Suid-Afrika definieer die teikengroep baie duidelik: Alle rasse, behalwe diegene wat geklassifiseer word as “Swart, naamlik Afrikane, Kleurlinge en Indiërs.” Wie bly oor? Wit Suid-Afrikaners, teen wie hierdie einste wet diskrimineer.
Trump se uitvoerende bevel verwys spesifiek na “Afrikaners”; met ander woorde, diegene wat in bogenoemde klassifikasie val waarteen rasse wette diskrimineer wat as “Afrikaans” toegewys kan word.
Dit is nie noodwendig vir my ʼn ideale definisie van ʼn “Afrikaner” nie. Ek sal groter diversiteit, en (veral) inklusiwiteit, waardeer en verwelkom. Daarom glo ek persoonlik in ʼn definisie van “Afrikanerskap” as een wat primêr gebaseer is op vrywillige assosiasie. Kyk, dit is nie voordelig of gewild om vandag, in Suid-Afrika, as “Afrikaner” te self-klassifiseer nie. As jy bereid is om dit te doen, ongeag jou ras, klas of geslag, moet jy verwelkom word in die geledere van die groep.
Maar tog, feit van saak is dat dit ook nodig is om die realiteit van statutêre diskriminasie sedert 1994 te verreken. En hierdie diskriminasie was feitlik uitsluitlik gerig teen Wit, en dan meer spesifiek Afrikaanssprekende, Suid-Afrikaners.
Per slot van sake is dit presies die argument wat aangevoer word om die bestaan van diskriminerende wette sedert 1994 te regverdig, naamlik historiese stature verontregting. Nou het jy te doen moet historiese diskriminasie voor 1994, en historiese, voorgaande, diskriminasie sedert 1994.
Die argument is dat die Grondwet “positiewe diskriminasie” nie slegs toelaat nie, maar verplig. Dat die Grondwet diskriminasie teen Afrikaners toelaat, is verseker die korrek. Maar diskriminasie kan nie “positief” wees nie, die woord op sigself impliseer negatiwiteit; iemand word bevoordeel, ten koste van ʼn ander, wat benadeel word. Verder, geen Grondwet, wat legitiem is, behoort enige vorme van opsetlike diskriminasie teen enige segmente van die bevolking wat daaronder leef, toe te laat nie, wat nog te sê van verplig.
Dit is Christo Wiese wat hier gepraat het.
Sy woorde, en die sentimente vervat daarin, is tipies van die klein persentasie superryk Blanke Suid-Afrikaners. Hulle wil ten alle koste die status quo beskerm en behou. Hulle enorme bates en rykdom is afhanklik daarvan, en van die goedgesindheid van die regerende klas. Dit was so sedert die vroeë jare van die 1980s, toe dit vir die sakemanne wat ryk geword het uit hulle verbintenis met die Britse Ryk, of die Afrikaner establishment, duidelik begin word het dat sanksies en die teenreaksie reg oor die wêreld heen teen die apartheidsregime hulle besighede, en daarmee saam hulle persoonlike belange, baie erg gaan begin benadeel het.
In die tydperk onmiddellik opvolgend op die 1994 oorgang in die land, het hierdie sakemanne enorme voordeel getrek uit die beleggings wat die land ingestroom het, en die ekonomiese groei wat dit veroorsaak het. Miljarde is, sonder enige noemenswaardige teenprestasie, oorgedra, veral in die vorm van aandele opnames, aan invloedryke figure in die nuwe regering. So is goedgesindheid gekoop wat tot vandag steeds hou; nie omdat die dankbaarheid voortleef nie, maar omdat die aandeelhouding in maatskappye wat van bepaalde bedryfomstandighede afhanklik is, simbiotiese wedersydse afhanklikheid geskep het.
Punt is dat ek hoegenaamd geen ekonomiese wrokkigheid teenoor hierdie mense voel nie. Ek weet dat kapitalisme die enigste werkbare ekonomiese model is wat welvaart kan skep. Ongelukkig lei dit ook tot ongelykhede in die gemeenskap. Dit is wat dit is. Aan die einde van die dag skep dit onvergelykbaar meer welvaart vir gewone mense, en selfs die armes, as sosialisme, kommunisme, of enige ander ekonomiese mode. En dit skep altyd die geleenthede vir elke individu om, deur harde, slim werk, of blote geluk, by die geledere van die ryk bo-laag aan te sluit.
Maar hierdie superryke bolaag van die Suid-Afrikaanse, en Afrikaanse, gemeenskap, het geen, hoegenaamd geen, belang, of self belangstelling, in my lot nie. Alles gaan, vir hulle, slegs om hulle sakeryke en persoonlike koninkrykies. Daarom is die eienaardige verskynsel dat daar van gewone Afrikaners verwag word om “beskermend” teenoor hierdie groepe op te tree, bizar. Hulle sal jou onder die bus gooi, sonder om twee keer te dink, indien dit hulle of hulle sakeryke kan bevoordeel. Jy is kanonvoer om as buffer te dien tussen hulle belange en die toenemende aggressiewe staat.
Dit is nie eintlik die punt van hierdie podcast nie, maar laat my vlugtig reageer op die punte deur Christo Wiese genoem oor hoekom hy positief is oor Suid-Afrika.
Eerstens, langslewendheid is nie ʼn aanduider van die vlakke van diskriminasie in ʼn land nie. Ek is aan die ontvangskant van diskriminasie in hierdie land; Christo Wiese word daardeur beskut deur die miljarde tot sy beskikking. Dit is syne. In kapitalisme verdien hy dit. Maar sy ontkenning van my benadeling stel my net nog meer bloot.
Dit laat my dink aan Dan Kriek, toe hy nog voorsitter van AgriSA was, wat voorgestel het dat groot boere (mega-bioere, soos hyself) vrygestel moet word van grondhervorming, maar dat kleiner Afrikanerboere se grond maar gevat kan word.
Tweedens, die Inkomstediens wat belastingbetalers byvoeg sê nie veel nie. Statistiek bewys dat meer as dertigduisend ryk Suid-Afrikaners oor die afgelope paar jaar die land verlaat het, en dat die Inkomstediens sukkel om genoeg belasting in te samel om hul teikens te haal. Die punt is hoeveel belasting ingevorder word.
Die argument oor die begrotingstekort bewys slegs dat die land is ʼn reuse fiskale moeilikheid is; dit was die geval in 1994, en dit was die geval in 2024. In 1994 het die land pas uitgekom uit wat waarskynlik die mees aggressiewe veldtog van sanksies en finansiële uitsluiting in die onlangse geskiedenis van die wêreld was, met die uitsondering, miskien, van Noord Korea. Wat is nou eintlik die substantiewe argument?
Die feit van die verhouding van verpleegsters tot pasiënte slaan my dronk. Wat het dit te doen met die ekonomiese lot of voorspoed van die land? Buitendien, die verhouding mag verskraal het, maar pasiëntsorg het drasties en dramaties verswak, net soos die gehalte van gesondheidsinstellings.
Sover dit die gesteldheid van Suid-Afrika se demokrasie aangaan; wel, dit is alles goed en wel, maar as jy blootgestel word aan die vlakke van deurlopende verwyt, marginalisering, vyandigheid en diskriminasie, soos die Afrikaners wat nie miljarde se bates en rykdom het nie, beteken dit hoegenaamd niks nie. Dit is in elk geval, soos die gevallestudie “Suid-Afrika” ons nou leer, geen waarborg van vrede en ekonomiese voorspoed nie.
Daar mag ʼn Monopolie Kapitaal in Suid-Afrika bestaan, soos in alle kapitalistiese lande, maar daar is nie die “Wit” Monopolie Kapitaal nie. Veels te veel bates is na 1994 oorgedra na Swart hande, en dan spesifiek die van ʼn baie klein, elite groep, om te kan praat van ʼn wit eksklusiwiteit onder diegene met monopolie kapitaal. En, selfs is daar, is ek beslis nie deel daarvan nie, en die wat wel is, gee geen snars om vir my en my lot nie.
Tweedens, en veel belangrik, meer as 90% Afrikaners is nie deel van enige vorme van “monopolie kapitaal nie.” Hulle ly geweldig onder kulturele marginalisering, ekonomiese uitsluiting, loopbaan stagnasie as gevolg van diskriminasie, hulle veiligheid, infrastrukteer en dienste wat deurlopend verval, toenemende vrees oor die vervreemding van hulle eiendom, en weerloosheid as gevolg van diskriminerende staatsorgane en stelsels.
Afrikaners het hulself opgehef uit uiterste armoede, in die vroeë 1900s, na die vernietiging van die Boereoorlog, en die 1930 resessie. Die Armoede Vraagstuk. Dit was eksklusief en uitsluitend van Swart Suid-Afrikaners, ja, maar dit het ʼn enorme poging geverg. Toe het ʼn vyandig regering na 1994 gekom, en deur flagrante diskriminasie begin om, geleidelik, maar verseker, al hierdie winste terug te skuif, alles in die naam van “transformasie.” Opsetlike verarming van Afrikaners, net soos Trump in sy uitvoerende bevel geimpliseer het.
Ek sien elke dag rondom my hoe, veral die ekonomie laer klas, Afrikaners in totale armoede verval, en onmatig ronddwaal, omdat hulle nie eens op institusionele ondersteuning van die staat kan staatmaak nie, as gevolg van hulle ras. Ek ervaar hoe werkloosheid snel toeneem, en hoe eens hooggeagte mense minderwaardige werkies aanvaar, net om te kan oorleef. Nie omdat hulle kompeterend of onbekwaam is nie, maar suiwer omdat hulle, Wit en Afrikaans is.
Ek sien hoe mense desperaat probeer om besigheid te doen, uit hulle huise, deur WahtsApp, op sosiale media, omdat hulle Wit is en nie kwalifiseer vir hulp van regeringinstellings nie. Banke vir hulle nie help nie, want die politieke risiko is te groot. En slaag hulle daarin, wonder-bo-wonder, om ʼn begin te maak, dwing Swart Ekonomiese Bemagtingswette hulle om groot dele van hulle swaarverdiende besigheid weg te gee, in ʼn poging om net te mag besigheid doen, of lisensies te behou.
Hulle aanvaar beheerraadposte by skole, want die departementele poste, wat veel, veel beter betaal, word geteiken vir Gelyke Indiensneming aanstellings. Hulle kry 80% in die matriek eindeksamen, maar kan nie gaan medies studeer nie, omdat kandidate uit die “voorheen benadeelde gemeenskappe”, dikwels met veel swakker punte, voorrang moet geniet. In sekere mediese rigtings kan hulle glad nie spesialiseer nie, omdat alle beskikbare vakatures vir diegene uit die geteikende demografie gereseveer word.
In 1994 was daar ongeveer vyf universiteite wat Afrikaans as media van onderwys gehad het. Afrikaans het die uitsonderlike prestasie behaal dat dit ʼn ten volle ontwikkelde akademiese taal was. Vandag is niks daarvan oor nie. Afrikaans is gereduseer tot ʼn kombuistaal.
Tot vandag toe nog, as die persentasie van belasting wat Afrikaners in hierdie land betaal, sowel as die getal Afrikaanssprekendes, as ʼn persentasie van die land se totale bevolking, verreken moet word, sal dit sekerlik die behoud van minstens twee universiteite met die taalmedium Afrikaans regverdig. Maar ter wille van Ideologie, transformasie en ʼn obsessie met ras, as gevolg van blatante diskriminasie, moes alles wat stuksgewys oor dekades opgebou was, oornag afgebreek word.
Hoe op dees aarde kan die behoud van Afrikaans as akademiese taal by twee of drie universiteite toegang vir die land se meerderhede versper? Hoe op dees aarde? Dit maak nie sin nie.
Die President van hierdie land blameer hulle by elke moontlike, en onmoontlike geleenthede vir alles wat ooit verkeerde geloop het in hierdie land; alhoewel hulle bloot menslike gesproke nie daarvoor skuld kan aanvaar nie, omdat hulle biologies te jonk was, en te laat gebore, om deel te kon wees van die apartheidstelsel. Leiers uit die “progressiewe” groepe kan hulle dreig met “kill te boer, kill te farmer” en dat hulle sal besluit wanneer die tyd gekom het om Wit mense op groot skaal te vermoor, sonder dat die Menseregte – en juridiese instellings in hierdie land dit repudieer.
Die jongmense onder hulle werk in Amerika op plase, of vlug die land uit, in strome, om die diskriminasie te ontkom.
In 1994 was daar ongeveer vyf uniuversiteite wat Afrikaans as media van onderwys gehad het
Dit is die wêreld, en die werklikheid waarin Afrikaners bestaan; nie die statistiek- gedrewe een waar Blanke Suid-Afrikaners alles tot hulle voordeel het, en moet weggee nie. Dit is die Afrikaners, glo ek, waarna Trump verwys het.
Comments