Die Afrikaner Broederbond is in 1918 gestig deur ʼn groep Afrikanermans wat ingesluit het die pa van Beyers Naudé. Dit was bekend as ʼn kultuurorganisasie, maar het altyd maar politieke oogmerke gehad. Die organisasie se missie was om eenheid onder Afrikaners te bewerkstellig, en hulle welvaart te bevorder. Hulle het daarin geslaag.
In 1994 het die regering van Jan Smuts staatsamptenare verbied om lede te wees, waarskynlik oor die noue verbintenis van die organisasie met die Ossewa-Brandwag, wat Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog teengestaan het. Toe die NP in 1948 aan die bewind gekom het, is hierdie verbod opgehef.
Die Afrikaner Broederbond (ek gaan van die res van artikel sommer kortliks verwys as ‘die AB’) was sedert die stigting van die Nasionale Party nou daarmee verbind. JBM Hertzog het geen voorliefde daarvoor gehad nie, en dit openlik aangeval gedurende sy termyn as Eerste Minister in die 1930s. Dit (die AB) was egter ʼn fundamenteel-belangrike strategie van die organisatoriese masjinerie van die DF Malan-NP om Afrikaners te mobiliseer ten einde hulle politieke ideale te verwesenlik.
Organisatories was die AB heel eenvoudig gestruktureer: Selle was landwyd in stede en dorpe ontplooi. Daar was ʼn baie losse hiërargiese struktuur, en (sover my kennis strek) ook nie werklik betekenisvolle gesagslyne nie; die hoofkantoor het besprekingsdokumente aan individuele selle gestuur, wat dit bespreek, en terugvoer oor die lede se menings oor die aangeleenthede (meestal verwysend na Party – en [later] regeringsbeleid) verskaf het.
Die AB het ʼn manie gehad oor geheimhouding. Selle het in die aande om die beurt by die huise van lede vergadering, verskans onder ʼn dekmantel van vertroulikheid. In die vroeër jare van die geskiedenis van die organisasie was dit sekerlik nodig om lede teen benadeling te verskans, gegewe die vyandiggesindheid van die regering teenoor die AB. Later jare, na 1948, was dit egter belaglik; lidmaatskap was binne die konteks van die Afrikaner-gedomineerde Nasionale Party eerder ʼn pluspunt (tot voordeel van) as ʼn negatiewe (tot nadeel van) lede. In 1979 het die boek ‘Super-Afrikaners’ (wat onder andere die name en besonderhede van lede van die AB bevat het) groot ophef gemaak. Dit het niemand benadeel nie. Nietemin, die geheimhouding het waarskynlik te doen gehad met die metodes wat die beweging aangewend het om aanstellings en beleid te manipuleer.
Jy kon nie aansoek doen om lidmaatskap van die AB nie, dit moes jou aangebied word, en om sodanige uitnodiging te kry, moes jy ʼn bewese bydra gemaak het tot die bevordering van Afrikaners. Jy moes ook ʼn sobere lewenswyse gelei het, verkieslik getroud gewees het, en baie beslis ʼn Protestant.
Die AB het gefunksioneer volgens die beginsels van ʼn netwerk van interne manipulering (seker 'n vorm van kaderoonplooing, en veronderstel): Lede is in strategiese posisies geplaas om die belange van Afrikaners te bevorder, voorwaardelik daaraan dat hulle op hulle beurt dan weer ander lede sal bevoordeel. Daar kan geen twyfel bestaan dat vele senior aanstellings in die staatsdiens (veral), die akademie (insluitend skole en universiteite – tot ʼn mate) en die privaatsektor (in ʼn mindere mate) onderhewig was aan lidmaatskap van die AB nie (die liggame wat die aanstellings moes doen was gelaai met AB-lede). Die aanstellings gedoen onder druk van die AB was nie altyd regverdig, of na meriete nie, maar was, oor die algemeen, hoogs bekwame persone.
Aanvanklik was die AB se fokus op die intense stryd tussen die Natte en Sappe (die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party, wat later die Verenigde Party geword het). In wese het hierdie stryd gegaan oor die Afrikaner se pogings om die verengelsing van land se Blanke bevolking te verhoed, Afrikaans as amptelike taal te behou, die status daarvan uit te bou, en om die Afrikaners op te hef uit die armoede voortspruitend uit die nagevolge van die Boereoorlog (armoede wat in die dertiger-jare vererger was deur die Groot Resessie).
Die AB het egter onmiskenbaar ʼn groot rol gespeel in die ontwerp en implementering van die beleid van apartheid. Later jare, soos die klem van nasionale politiek verskuif het na die land se rasse-dinamieka, het die AB ʼn groter-wordende rol gespeel in die bevordering van apartheid-modellering en die afdwing daarvan as regeringsbeleid.
Tog het die AB ook later jare (spesifiek in die vroeë – tot middel 1980s) ʼn belangrike rol gespeel om Grondwetlike veranderinge in die land te inisieer.
Die Afrikaners het toenemend verstedelik, was blootgestel aan die vereistes van ʼn moderne stedelike ekonomie (waarvan hulle toenemend uitgesluit was as gevolg van internasionale sanksies), sowel as aan die liberale politieke ideologie van gelykheid en vryheid. Die denke het begin posvat dat ʼn liberale politieke bestel, gegrond op die beginsel van Grondwetlike soewereiniteit, die Afrikaner (en ander minderhede in die land) genoegsame ruimte kon bied om tot ʼn vergelyk te kom met die meerderheid, en op hierdie manier toegang tot die globale wêreld terug te wen.
Daar was twee verdere faktore wat bygedra het tot die liberalisering van gesindhede in die AB: Die een was die bemagtiging van Afrikaners. Danksy die ingrepe van die Nasionale Party en die manipulering van die land se hulpbronne tot voordeel van ʼn klein minderheid van die bevolking, het Afrikaners hulle historiese armoede en ontwikklingagterstande afgeskud, en ontwikkel in ʼn dinamiese, welvarende groep. Hulle belange was geïnstitusionaliseer (insluitend taal, kultuur en toegang tot) instellings waar staatsbeheer dit kon verseker, insluitend die staatsdiens, akademiese - en staatsbeheerde instellings. Bemagtiging het selfvertroue tot gevolg gehad, en die geloof dat die ontwikkelingsvlakke van Afrikaners hulle genoegsaam sou kon verskans teen benadeling – binne die konteks van ʼn liberale Grondwetlike bestel.
Die ander faktor was die skeuring in die NP in die vroeë 1980s, toe die Konserwatiewe Party weggebreek het. Kort daarna het die susterskerke geskeur met die stigting van die AP Kerk. Ook die AB het geskeur, toe ʼn nuwe, verregse geheime organisasie gestig was, bekend as Toekomsgesprek, geskoei op die AB model. Hierdie skeuring het die Afrikaner min of meer presies in twee verdeel, en het aanleiding gegee daartoe dat vele (dikwels invloedryke) lede van die AB bedank en betrokke geraak het by Toekomsgesprek. In ʼn sekere sin was die AB derhalwe “gesuiwer” van weerstand teen die hervormingsinisiatiewe – en gesprekke wat in die binnekringe gewoed het.
Die AB het ʼn groot rol gespeel in beleid-beïnvloeding onder die voormalige Nasionale Party. Tog was dit nooit ʼn alles-oorheersende rol nie. Regeringsbeleid was hoofsaaklik geforumleer in die binnekringe van die Nasionale Party, en slegs maar bespreek in die AB-selle (regeringsbeleid was nie deur AB selle geïnisieer nie).
Na 1994 het die AB bly voortbestaan in die gedaante van die Afrikanerbond, wat steeds die mandaat het om die belange van die Afrikaner te bevorder. Die organisasie is egter skaars ʼn skadu van sy oorspronklike gedaante; dit het geen wesenlike invloed op regeringsbeleid nie, en bitter min impak – selfs op die belange van Afrikaners. In die oorgangsjare 1992-1995 het die rotte die sinkende skip in massas verlaat, en het die AB grootskaalse, massas-bedankings van lede ervaar. Selle, waar dit nog bestaan, is oor die algemeen onaktief, en aktiewe deelname nie noemenswaardig nie.
Wat het oorgebly van een van die mees omvangryke en effektiewe strategieë wat in die werking gestel was om Afrikanermag – en dominasie in Suid-Afrika te bewerkstellig en te verskans? ʼn Leë dop. Dit, in wese, is ook maar die uitspraak oor die ideaal wat gedien moes word, naamlik die idee van ʼn Christelik-nasionale Afrikanervolk in Suid-Afrika.
Comments