1. Ek dink die huidige ekonomiese beleid in die land beweeg gevaarlik naby aan sosialisme, maar dat dit nie werklik sosialisme is soos gewone Westerlinge dit sal verstaan nie. Ek dink dit gaan in wese oor die besit van bates; wat die regering en groeperinge soos die EFF beskryf as ‘toenemende staatsbetrokkenheid by die ekonomie’ of sosialisme,’ is inderwaarheid ʼn ekonomie model ingevolge waarvan ʼn klein groepie uit die regerende elite totale beheer oor ekonomiese geleenthede uitoefen en bates inpalm, en die res van die bevolking aan ʼn vorm van sosialisme onderwerp word. Dit is ʼn tipe van ʼn elitistiese kapitalisme binne ʼn sosialistiese bestel, gerig op die massiewe verryking van ʼn klein groepie elite.
2. Ek is van mening dat die kern ekonomiese aanduiders in Suid-Afrika tot in 2009 nie sleg gelyk het nie; een van die beste ekonomiese bestuurspanne wat die land ooit geken het, was in beheer (naamlik Thabo Mbeki, Trevor Manuel en Maria Ramos. Die land se skuld was op die laagste punt in dekades, en daar was deeglike fiskale beheer.
3. Sedert 2009 het die situasie egter dramaties versleg; deels as gevolg van die internasionale ekonomiese resessie wat ingetree het, deels weens die bewindsaanvaarding (die georkestreerde rewolusie) deur Jacob Zuma, en deels weens die toenemende sosialisering (sosialisme en
kommunisme) van ekonomiese beleid (wat ingesluit het die toename in invloed van vakbonde).
4. Struktureel het die agteruitgang egter ironies genoeg reeds gedurende die termyn van Mbeki en Manuel begin. Massiewe bedrae geld is in infrastruktuur ingepomp; deels uit ‘eie’ fondse, maar ook op enorme skaal deur skenkings van ʼn wêreld wat gereed gestaan het om die nuwe regering van die bevryde SA behulpsaam te wees. Omdat die regering geglo het dat ervare amptenare se aandrang dat geld opsy gesit moet word vir onderhoud en instandhouding eintlik maar neergekom het op onwilligheid om dienste na Swart Suid-Afrikaners uit te brei, het infrastruktuur ongelooflik swak in stand gehou.
5. Die vraagstuk rondom ekonomiese en welvaart statistiek is geensins so eensydig eenvoudig soos in die hoofstroom nasionale agenda verkondig word nie. In die eerste instansie is ekonomiese ongelykhede ʼn internasionale tendens wat geensins beperk is tot Suid-Afrika nie, en ook nie eens tot kapitalistiese state nie. Binne hierdie konteks behoort die oorwig bates in Suid-Afrika aan ʼn klein groepie elite wat weliswaar dominerend Wit is, maar baie beslis nie daardie bates sonder slag of stoot aan die arm (Swart) massas sal oorhandig nie; hulle sal dit eerder verplaas na ander lande, wat disinvestering uit Suid-Afrika impliseer op ʼn massiewe skaal, en die land in desperate armoede sal laat verval – soos Zimbabwe. In ʼn neutedop, die massiewe bates wat ANC en EFF leiers so maklik en simplisties aan die arm massas verkondig in ‘Blanke hande’ is, is inderwaarheid nie in Blanke hande nie, maar (in ooreenstemming met internasionale tendense) in die hand van ʼn klein groepie wit, swart en (meestal) internasionale beleggers. Die ongemaklike waarheid is dat ons hierdie kapitalistiese ‘fatcats’ desperaat nodig het om welvaart en rykdom te skep.
Tweedens is die grootste gros van oënskynlike Blanke rykdom herleibaar na die feit dat Blanke Suid-Afrikaners (1) oor die vereiste kwalifikasies, ervaring en kennis beskik wat in ʼn 21ste eeuse kennis-gefundeerde ekonomie vereis word, en (2) omdat hulle veral sedert 1994 op massiewe skaal, gegewe die grootte van die bevolkingsgroep, entrepreneurs begin word het. Dit is baie beslis nie toe te skryf aan ʼn geïnstitusionaliseerde stelsel wat Blanke belange verskans tot nadeel van Swart Suid-Afrikaners nie; net die teendeel is werd. Indien hierdie Blanke inisiatief en kundigheid onderdruk en gemarginaliseer word, gaan die land ʼn enorme prys daarvoor betaal in terme van die verlies van noodsaaklike kundigheid om ʼn moderne ekonomie mededingend te laat werk, en tweedens in terme van verlore werksgeleenthede.
6. Nietemin kan nie werklikheid van ekonomies ongelykhede onder bevolkingsgroepe onderling ook nie weggeredeneer word nie. Wat egter nodig is, is geteikende ontwikkeling met elemente van regstelling, en beslis nie die huidige model van diskriminerende arbeids – en ekonomiese geleenthede beleid wat kundigheid wegjaag en ekonomiese groei ondermyn nie.
7. Ekonomiese transformasie moet verwerp word ten gunste van geïntegreerde, volhoubare organiese
ekonomiese modelle wat die bevordering van kapasiteit sal verhoog en geleenthede vir deelname aan die formele ekonomie sal bevorder vir diegene wat onder blatante diskriminasie gelei het, maar sonder die ingeboude stelsel van diskriminasie teenoor ander bevolkingsgroepe wat tans die debat rondom ekonomiese beleid domineer.
Prentjiebron: Pixabay
Comments