Dit is soms moeilik om verby die ideologiese retoriek te kyk in die debat oor ras. Die woede teenoor die invloed van die Westerse dominasie op Afrikane vandag kom tot uiting in manifestasies van sosiale revolusies, soos #RhodesMustFall en #FeesMustFall.
Dit is moeilik om die waarheid agter al die propaganda en ‘waarhede’ wat spreek tot die heersende globale waarde-oordele, te herken. Julius Malema, en, laat ons maar eerlik wees daaroor, ook die President en vele ander hooggeplaaste leiers van die regerende party, verkondig graag (en glo dit waarskynlik ook) dat Blankes ‘die land’ van Swarte mense gesteel het.
Dit sou verkeerd wees om hierdie aannames op oorvereenvoudig wyse te verwerp. Kom ons gaan terug tot in die jaar 1652, toe Jan van Riebeeck, volgens beskikbare rekords, voet aan wal gesit het in die Kaap. Die destydse bewoners van daardie landgebied was die Khoi en San. Uitgedruk in die beskrywing van die Westerling: Daardie grond het met ander woorde in 1652, die dag toe Van Riebeeck aan wal gestap het, aan die Khoi en die San behoort. Die Westerling het dit met geweld ingepalm, met ander woorde, volgens die woorde-boek beskrywing van die begrip, het hulle dit van die Khoi-San gesteel. Die feit dat die Khoi-San waarskynlik ander ekonomiese modelle van ‘eienaarskap’ gehandhaaf het as die Westerse begrip daarvan (ʼn meer kollektiewe een) neem nie die blote werklikheid van die interpretasie weg nie.
Waar Mnr Malema en andere hierbo vermeld na my mening die pot mis sit, is in hulle aanname dat die hele Suid-Afrika in besit van Swart volkere was op die stadium toe Blankes begin het om noordwaarts te beweeg. Volgens my begrip van die geskiedenis van hierdie land, was daar ʼn min-of-meer gelyktydige noordwaartse beweging van Blankes en ʼn suidwaartse beweging van Swart volkere. By implikasie, daar was op daardie spesifieke tydstip ʼn ‘oop’, hoofsaaklik onbesette stuk land wat vir alle praktiese doeleindes ‘no man’s land’ was.
Hoe dit ook al mag sy, die argument neem steeds nie die meer fundamentele een weg nie, naamlik dat die Blanke kolonialiste (want dit was presies wat hulle was) groot stukke waardevolle land van Swart volkere wat reeds daar gevestig was, weggeneem het, op dwingende, geweldige en nie-vrywillige afstanddoening wyse. Verder, wette soos die 1913 Land Act het drakoniese onteiening van Swart Suid-Afrikaners tot gevolg gehad wat enige argument rondom moraliteit negeer.
Binne hierdie konteks is dit duidelik: Blanke kolonialiste het die land gesteel, driehonderd-en- vyftig jaar gelede, van die oorspronklike bewoners daarvan, naamlik die Khoi en San – en dit later deur koloniale dwang uitgebrei tot onregverdigbare dimensies.
Kom ons gooi die net nou ʼn bietjie wyer, en sluit ook ander lande in waar ʼn soortgelyke proses plaasgevind het: Die Verenigde State van Amerika en Kanada (Indiane), Australië, New Zeeland, die Suid-Amerikaanse Vasteland, Indonesië en vele ander.
Die problematiek wat hierdie hele aangeleentheid ten grondslag lê, is die byna vier eeue wat sedertdien verloop het. Gedurende hierdie tydperk was gevestigde en gestruktureerde state in hierdie grondgebiede gevestig, waar Grondwetlike modelle ingestel is wat bepaalde wette van eienaarskap daarstel (ongeag of dit kapitalisties of sosialisties van aard is), wat demokratiese ordes geskep het en wat burgerskap van die bewoners van daardie gebiede in juridiese, politieke, staatkundige en selfs ekonomiese stelsels vasgevang het. Dit is bloot onmoontlik om die tentakels van kolonialisme te ontknoop.
Verder is dit ook 'n feit dat gewelddadige verowerings en dominasie tussen volkere en beskawings 'n verskynsel so oud soos die mensdom self is. As ons die geskiedenis terugvat tot op 'n stadium van voor die totstandkoming van moderne nasionale state, kan die vraag tereg gevra word watter moderne state nie deur 'n proses van historiese verowering en her-verowering tot stand gekom het nie? Die Swart volkere van Afrika was ook alles behalwe uitgesluit van hierdie verskynsel; oorloë onderling tussen hulle was net so algemeen en verowerend van aard as tussen die Europese moondhede, en as tussen die Europese moondhede en Afrika volkere.
Apartheid in Suid-Afrika het mettertyd ʼn manifestasie van kolonialisme begin word, soos die wêreld en die heersende globale waardestelsel, en later ook die magsverhoudinge tussen die grootste kulturele entiteite op aarde, begin verander het.
Apartheid kan nooit losgemaak word van die ontstaansgeskiedenis daarvan nie; in die woorde van die Engelse spreekwoord, is die twee ideologieë “fruits of the same poisonous tree.” Aan die hart van kolonialisme het die ideologie van rassemeerderwaardigheid gelê – en die vaste geloof dat bepaalde rasse – en samelewingsgroeperinge meerderwaardig is teenoor andere. In sy mees elementêre, en mees dekonstruktiewe, manifestasie, het kolonialisme uiting gevind in die besetting van groot landmassas deur sekere lande en volkere wat ander volkere as hulle mindere gesien het; en, in die aakligste, mees onmenslike vorm daarvan, het dit neerslag gevind in slawerny.
Kolonialisme
Kolonialisme, as globale ideologie, het sy hoogtepunt bereik in die 1930s en 1945. Ek vermeld spesifiek die jaar 1945 omdat dit saamgegaan het met die enkele belangrikste historiese gebeurtenis wat die gety teen kolonialisme laat draai het, naamlik die Tweede Wêreldoorlog. In 1939, met die uitbreek van die oorlog, was kolonialisme en rassemeerderwaardigheid nog internasionaal aanvaarbare (en aanvaarde) norme. Die primêre oorsaak vir hierdie verskriklike oorlog, en die aaklige vernietiging en swaarkry wat daaruit gespruit het, was egter juis ʼn ideologie van rassemeerderwaardigheid. Hierdie ideologie het onder meer gelei tot die dood van 5,5 miljoen Jode, en die meer as sewentig miljoen mense wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog gesterf het. Die Russe het ʼn skokkende 24 miljoen verlies gely. (Wikipedia)
Hierdie oorlog, en die gevolge daarvan, het gesindhede wêreldwyd teen die filosofie van rassemeerderwaardigheid laat draai. Kolonies het die een-na-die-ander onafhanklikheid gekry, en enige stelsel geassosieer met rassemeerderwaardigheid was deur die nasies en volkere van die wêreld verwerp. Reeds in die vroeë jare van die Verenigde Nasies het Suid-Afrika deurgeloop onder die afkeur van nasies oor sy binnelandse rassebeleid.
Kolonialisme het ʼn totale samelewingsverband in Afrika; ʼn kultuur, en gepaardgaande ekonomiese, sosiale en maatskaplike denk – en doenwyses vernietig. In die proses het dit geweldige vernedering, kulturele vervreemding en “vreemdelingskap in hulle tuiste [Afrika]” by (en vir) Afrikane geskep.
Niemand kan vandag weet hoe welvarend Afrika sou gewees het sonder kolonialisme, of hoe dit sou gelyk het nie, omdat die strukturele en kulturele herordening daardeur veroorsaak, so wesenlik en ingrypend was, dat geen betroubare afleiding uit die reste (die nalatenskap) van die uitlewing van die tradisionele Afrika-kultuur gemaak kan word nie.
Hoe kan iemand ooit daarin slaag om aan ʼn Witmens in Afrika wat so maklik die argument ophaal dat die Blanke (Westerse) tegnologiese en ekonomiese ontwikkeling na Afrika gebring het, verduidelik dat sy (of haar) wenslike redeneringsparadigma irrelevant is? Afrika se gemeenskappe, die wyse waarop hulle as mense, beide individueel en kollektief, met mekaar en met andere omgegaan het, die wyse waarop hulle besluite geneem, hulself regeer en regspraak uitgeoefen het voor kolonialisme (voor die koms van die Witman) was totaal en onbegrypbaar vir meeste Westerlinge, anders as dit wat ons as Westerlinge ken. Ons dink aan “ontwikkeling” in terme van ʼn Westers-gedefinieerde begrip daarvan (Westerse gewoontes en gebruike); veral omdat die Westerse kultuur die afgelope 2,000 jaar (sedert die opkoms van die Romeinse Ryk) die globale kulturele paradigma gedomineer het.
Daar is egter geen aanduiding dat die tradisionele, voor-koloniale Afrika kulturele paradigma nie gewerk het nie, en nie welvaart vir die deelnemende lede daaraan geskep het nie. Miskien was dit nie, en sou dit ook vandag nie gewees het nie, die tipe materialistiese welvaart wat ons as Westerlinge aan die begrip toedig nie, maar volgens alle aanduidings was dit beslis ook nie ʼn minderwaardige tipe welvaart nie. As ons vandag kyk na die reste van die Afrika-kultuur wat nie deur kolonialisme vernietig was nie, is alle aanduidings dat dit ʼn veel meer medemenslik, begripvolle en ondersteunende lewenskonteks was (en is) as wat die byna psigopatiese Westerse kultuur aan deelnemende lede bied. Sosialisme, soos ek as Westerling daaraan dink, kan waarskynlik wel binne sodanige kulturele konteks werk, maar sal nooit binne die Westerse, individualistiese kulturele orde kan nie.
Die punt is dat tradisionele Afrika kultuur insluitend en deelnemende besluitneming voorop staan, en graag soveel lede as moontlik van die gemeenskap betrek (Batho Pele; ek is ʼn mens deur ander mense). Wie weet waarmee die Afrikane vorendag sou gekom het as ons hulle destyds met rus gelaat het, en nie ons vorme van kulturele gebruike, staatsvorme en tegnologie op hulle afgedwing het nie? Ons sal nooit weet nie – dit is die punt. Die probleem is dat kolonialisme twee uiteenlopende kulturele paradigmas met uiteenlopende waardestelsels en paradigmatiese boustene saamgedwing het.
Slawerny was ʼn direkte uitvloeisel van kolonialisme. Ek verwys hier na slawerny in die sin van mense-handel, maar ook in die uitgebreide sin van die konfiskering van bates soos grond. Niemand kan die werklikheid van die 1913 ‘Land Act’ wat meer as 80% van die land opsy gesit het vir Blanke eienaarskap alleenlik, ontken nie. Dit kan ook nie ontken word dat baie swart grondeienaars van hulle grond ontneem was deur jare se diskriminasie, kolonialisme en apartheid nie. Wie kan die werklikheid van Distrik 6 ontken, en ander plekke waar mense bloot op grond van hulle velkleur van grond af verwyder was, en in die proses eiendom verloor het?
Daar is egter selfs ʼn groter konteks om in ag te neem. Die onsinnige grense wat deur kolonialisme op die Afrika Vasteland getrek was, het uitgedraai ʼn bron van miljoene mense se dood en swaarkry.
Indien daar na die grense van Afrikastate gekyk word, sal dit enige rasionele mens onmiddellik opval dat dit totaal onlogies is; kulturele groepe wat eintlik bymekaar hoort, word deur nasionale grense verdeel, terwyl volkere en groepe wat tradisioneel aartsvyande was, saamgegooi was. Selfs die geneigdheid tot etniese dominasie binne die ANC kan waarskynlik tot ʼn mate hierna teruggevoer word.
Waarskynlik die heel beste illustrasie van hierdie punt, is Rwanda. ʼn Belaglike oorsaak van die burgeroorlog wat uiteindelik gelei het tot die massamoord van tot ʼn miljoen mense in 1994 (of byna 70% van die Tutsi etniese en kulture groep wat op daardie stadium in die land woonagtig was) kan teruggevoer word na die koloniale moondhede se aannames dat die Tutsi ras-meerderwaardig was teenoor die Hutu (omdat hulle, volgens die aannames van die tyd) meer Kaukasiese gene gehad het. Die gevolg was dat die Hutu blootgestel was aan uiterste vorme van weerloosheid en gedwonge arbeid. Die meng van Tutsi en Hutu is selfs verbied. Die gevolg? In 1994 het eeue se opbouende woede tot uitbarsting gekom. (Wikipedia, nd)
Konteks
Dit is maklik om ʼn kolonie geografies ver verwyder van jou eie land, en waar die optrede en besluite van onafhanklike regerings geen wesenlike invloed op die voormalige kolonialiseerders uitoefen nie, selfregering te gun. Indien jy egter in een land, tussen die slagoffers van kolonialisme leef, waar “selfregering” ondergeskiktheid aan die besluite van die voormalige onderdruktes impliseer, is dit gans en al ʼn ander saak. In Suid-Afrika was hierdie situasie verder gekompliseer deur die uiteenlopende lewensuitkyk en ideologiese invalhoeke van die “kolonialiseerders”, in vergeleke met diégene wat gekolonialiseer was. Die Blankes is kultureel Westers geprogrammeer; Afrikane, daarenteen, hang ʼn kultuur aan met wesenlik verskillende waardes en lewensuitkyk. Die maalkolk van interaksie het hierdie verskille met die eeue laat vervaag, maar beslis nie verwyder nie.
Daar is ʼn verdere kompliserende element te vinde in die bevolkingsamestelling van Blanke Suid-Afrikaners. In die breë definisie van hierdie groep is mense wat aan hulself ʼn eie kollektiewe identiteit toegeken het, en teen die 1940s bekend gestaan het as Afrikaners.
Hierdie “volk” was vasgevang in die nagevolge van die Suid-Afrikaanse oorlog, en het ʼn volk-nasionalisme beleef wat onafhanklikheid en selfbeskikking vooropgestel het. Hierdie ideale het direk gebots met soortgelyke ideale van Swart Suid-Afrikaners. Die verskil is dat die Afrikaners, alhoewel die minderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking, die meerderheid was binne die samestelling van Blanke Suid-Afrikaners. Aangesien dit hierdie Blankes was wat in 1945 die politieke mag in die land gehad het, was die Afrikaners in staat om hulle volkseie drang na selfbeskikking af te dwing. Die enigste wyse waarop hulle die getalle oorwig van Swart Suid-Afrikaners kon hanteer sonder om hulle eie ideale tot selfbeskikking prys te gee, was deur Swart Suid-Afrikaners gelyke burgerregte, wat stemreg sou insluit, te ontsê. Hierdie politieke uitsluiting is deurgetrek tot sosiale, kulturele, en (veral) ekonomiese marginalisering. Die gevolg was apartheid.
My punt is nie dat enige van bogenoemde argumente apartheid moet regverdig of “verdedig” nie; dit is ʼn stelsel wat onverdedigbaar is – net soos die “grootboet” daarvan, naamlik kolonialisme. My punt is dat Blankes Suid-Afrikaners nie boser mense is as enige van die Europees, of Amerikaners, wat verantwoordelik was vir kolonialisme en rasse diskriminasie voor, tydens of na apartheid nie. Blankes Suid-Afrikaners is nie inherente bose mense nie; net soos hulle nie inherent “goeie” mense is nie – hulle is bloot mense.
“Clash of civilisations”
ʼn Bekende, hoë profiel Amerikaanse politieke wetenskaplike, Samuel Huntington, het ʼn teorie ontwikkel wat hy glo die paradigmatiese grondslag mag vorm vir mededinging en opponerende magsbalans in die 21ste eeu. Hierdie teorie staan beken as die “Clash of Civilations”, en is kortliks gebou op die volgende aannames (Wikipedia, nd):
-- Mense (die mensdom) se kulturele en godsdienstige identiteit sal die primêre bron van konflik word in die na-Koue Oorlogse wêreld.
-- 'n Paar basiese beskawings regoor die wêreld word geïdentifiseer, en Huntington is van Ontleding dat die verskille tussen hierdie verskillende kulture die “foutlyne” van die moderne wêreld verteenwoordig, wat konflik sal definieer; eerder as die 20ste eeuse paradigmas van die nasiestaat en ras-gehegtheid. Nasiestate sal nie verdwyn nie, maar dit sal nie meer die primêre oorsprong van assosiasie en gevolglike mededinging om skaars hulpbronne wees nie.
Die kulture wat geïdentifiseer word is as volg:
1-Die Westerse beskawing, gekenmerk deur kulturele en aanverwante gewoontes en gebruike. Huntington identifiseer die volgende gebiede as die primêre lede van die Westerse beskawings-gemeenskap: Noord Amerika, Wes en Sentraal Europa, Australië en Oseanië. Dit sluit ook in (as ʼn sub-kultuur) die gebiede van Sentraal Amerika, Suid-Amerika, Kuba, die Dominikaanse Republiek en Mexiko. (Let tog daarop dat meeste van die gebiede gelys as ‘Westers dominerend’ dit geword het deur kolonialisme).
2-Die Ortodokse wêreld bestaande uit die voormalige Sowjet Unie (uitsluitend die Baltiese lande en Sentraal Asië), Armenië, Georgië, die voormalige Joegoslawië, Bulgarye, Ciprus, Griekeland, die Oekraïne en Roemenië.
3-Die Oosterse lande wat saamgestel is uit ʼn mengsel van mense wat kultureel voortspruitend is uit Boeddhisme, die Sjinese, die Hindoeïsme en Japannese gemeenskappe.
4- Die Moslem wêreld, bestaande uit die Groter Midde Oosterse gebiede, (uitgesluit ʼn paar gebiede met duidelik onderskeibare kultuur en godsdienstig eiesoortige bevolkings, soos Etiopië, Israel en Malta), maar insluitend die noordelike gedeeltes van Wes-Afrika, Albanië, Bangladesj, Broenei, die Komore, Maleisië, Pakistan en die Maledive.
5- Die beskawings van Sub-Sahara Afrika, insluitend Suider-Afrika, Sentraal Afrika (uitgesluit Tsjaad), Oos-Afrika (uitgesluit Ethiopië, die Komore, Kenia, Mauritius en Tanzanië), die Kaap Verdiese Eilande, die Ivoorkus, Ghana, Liberië en Sierra Leone.
6- Daar is ook ʼn aantal kulturele wat nie noodwendig tot een van die primêr geïdentifiseerde beskawings behoort nie; soos die gemeenskappe van Etiopië en Haiti.
Huntington se teorie bou voort op hierdie tema deur ʼn gedetailleerde uiteensetting te gee van die gronde vir, die aard en omvang van botsings tussen die onderskeie beskawings in ʼn 21ste eeuse globale orde. Die sentrale tema in hierdie redes het te make met toenemende globalisering en die gepaardgaande tasbare kultuur en godsdienstig-gefundeerde assosiasie met, en uitlewing van beskawings-verwante lewesnwyses en sienings. In die kern van hierdie teorie lê egter ʼn waarneming opgesluit wat uiters belangrik is vir die redenasies vervat in hierdie dokument, naamlik (direk aangehaal): (Wikipedia, The Clash of Civilisations and the Remarking of the World Order, 1996)
“Differences among civilizations are too basic in that civilizations are differentiated from each other by history, language, culture, tradition, and, most important, religion. These fundamental differences are the product of centuries, so they will not soon disappear.”
Die onderliggende redenasie, vir die doeleindes van hierdie artikel, is dat, ongeag kunsmatige, mens-gemaak geografiese grense vir nasionale state, wat, in die geval van Afrika in elk geval, die resultaat was van koloniale moondhede se totale onsensitiwiteit en onderduimse ooreenkomste, daar ʼn sterker motivering vir groepsidentifikasie, lojaliteite, ideologiese verwysingsraamwerk en lewenswyse bestaan as die nasionale eenheidstaat, en dit is assosiasie met ʼn bepaalde identifiseerbare beskawing.
Die punt wat ek probeer maak, is dat Huntington se teorie van die ‘Clash of Civilisations' feitlik elke dag in die kleine in Suid-Afrika afspeel.
Prince Zuko Pokwana ka Menziwa (Jongisilo, 2012) stel byvoorbeeld die volgende argumente in sy verdediging van die voorgestelde Tradisionele Howe Konsepwet:
-- Die demokratiese politieke stelsel (lees; Westerse politieke stelsel) word oordonder deur velerlei probleme soos binne-gevegte, massiewe spandering van geld en die wegneem van die stem (insette) van gewone mense in besluite wat hulle lewens raak.
-- Die instelling van tradisionele leierskap kom al eeue lank in die Afrika kultuur en geskiedenis. Die praktyk mag ondemokraties wees in die oë van Westerlinge, maar is in der waarheid baie meer integrerend en akkommoderend as die Westerse kultuur.
-- Die Westerse kultuur tref ʼn onderskei tussen die wetgewende en regsprekende gesag; elk met sy afgebakende jurisdiksies. In die Afrika kultuur dieselfde regerende instelling vervul beide rolle.
-- Die Afrika kultuur word nie geassosieer met persoonlike, selfsugtige eiebelang en die versameling van persoonlike rykdom nie – dit is iets wat die kolonialiste in Afrika ingebring het.
-- “Being a traditional leader was more a fundamental responsibility than an opportunity to take up high political office.”
In ʼn baie insiggewende artikel getiteld “Irreparable damage” (wat eintlik handel oor die “The Spear” insident, en President Zuma se skerp reaksie daarop), ontleed Thula Bopela (Bopela, 2012) die invloed van die “wit beskawing” (Westerse kultuur) op die Afrika kultuur. Hy maak onder andere die volgende interessante punte wat die inherente konflik tussen die twee teenstrydige kulturele kontekste illustreer:
-- Die tradisionele Afrika gemeenskappe het nie polisiemagte en veiligheidsmaatreëls nodig gehad nie, omdat misdaad glad nie deel was van die aard en strukturering van gemeenskappe nie. Die rede hiervoor was dat, voor kolonialisasie, alle Afrikane ʼn stukkie land gehad het wat hulle kon verwerk. Die probleme het begin toe Westerlinge begin het om land te privatiseer.
-- Afrikane het nie land van enigiemand gekoop nie, want die grond het nie aan enigiemand behoort nie (privaat eienaarskap is dus nie ʼn inherente deel van Afrika-kultuur nie).
-- As gevolg van kolonialisme het die Afrikaan ʼn “ge-dekultuurde” wese geword; wat wortels in beide die Afrika, sowel as die Westerse kultuur het. Dit veroorsaak konflik wat Afrikane onmagtig laat.
-- Die sosiale aard van die Afrika kultuur, en gepaardgaande sorgsame lewenswyse het vele “euwels” van die Westerse beskawing, soos die “verwerping” van bejaardes tot gevolg gehad. In Afrika gemeenskappe word bejaardes getroetel en hoë agting word aan hulle opinies geheg.
-- In die verband is President Zuma se siening in Desember 2011, naamlik dat die Christelike godsdiens baie probleme vir Afrikane teweeg gebring het, ook insiggewend. (Ndlovo, 2011)
-- Alhoewel baie van die geskrifte rakende die invloed van kolonialisme op die Afrika van vandag emosie-belaai is, is dit tog moontlik om die kaf van die koring te skei ten einde ʼn bepaalde vertrekpunt vir die analisering van die impak van kolonialisme, en persepsie daarvan op die Afrikaner se posisie binne die Suid-Afrikaanse en internasionale staatkundige bestel het.
-- Die vernaamste punt om te maak, gegewe die voorafgaande argumente vervat in hierdie dokument, is dat die grootste invloed van kolonialisme in Afrika gevind kan word in die kulturele aspekte en invloed daarvan. Een beskawing (die Westerse beskawing) het na Afrika gekom en ʼn ander beskawing (die Afrika beskawing) gewelddadig onderwerp, geminag en hulle leefwyse op elke denkbare en tasbare vlak fundamenteel omvergewerp en verander. Afrikane is op ʼn gewelddadige wyse uit hulle bekende omgewing en kulturele gebruike geruk en gedwing om op ʼn Westerse wyse van gedrag en kulturele oriëntasie op te tree.
-- Slawerny was (en is) ʼn geweldige sensitiewe aangeleentheid vir Afrikane. Dit het tot enorme verbittering en haatdraendheid jeens Westerlinge gelei.
-- Die Westerling se begrip van nasionale grense as die sigbare lyne van die (hoofsaaklik militêre) mag van die besettende moondheid, het geweldige dood en vernietiging deur baie eeue tot gevolg gehad – en nie net in Afrika nie.
-- Die gevolge van die vernietiging van hulle kultuurgoedere en fisiese leefruimte, saamgelees met die gevolge van slawerny, het daartoe gelei dat Afrikane tot die vandag toe nog nie daarin kan slaag om die vernietiging van kultuur, ekonomies, sosiale en religieuse strukture te oorkom en herstel ten einde welvaart te herstel nie. (Dettles, 1996) (Pheko) (Mazuri, 2011) (Smiley, 2010)
Die belangrike punt om uit te lig rakende kolonialisme se invloed op die Afrikaner in ʼn 21ste eeuse Suid-Afrika, is dat die Afrika volkere van Suid-Afrika die Afrikaner sien ʼn deelnemer in die breër kolonialisme dryf. Mbeki het die Suid-Afrikaanse blankes geïdentifiseer as “’n spesiale tipe kolonialisme”; ʼn siening wat onlangs weer in die regerende party se beleidsdokumente verwoord en beaam was.
Die vraag is: Wat is die waarheid? Soos ek dit sien, hou dit waarskynlik verband met drie verwante realiteite, naamlik:
-- Die ontstaan van wat tradisioneel bekend gestaan het as “die Afrikaner” as ʼn volk (kulturele eenheidsgroep) hou verband met kolonialisme. Sonder kolonialisme sou daar nooit ʼn Afrikanervolk bestaan het nie, want die Afrikaner het ontstaan uit ʼn voormengsel van verskeie afsonderlike volkere, met verskeidenheid in terme van rasse en sub-kulturele, meer eenvormig in terme van hulle “behoort aan” die Westerse beskawing. Dit sou nutteloos wees om die verwantskap tussen die Afrikaner en kolonialisme te probeer ontken. Dieselfde kan egter ook gesê word van die Britse Setlaars, en derhalwe vir ʼn groot persentasie van die land se Engelssprekende Blankes. Net so kan geargumenteer word dat die Khoi en San die enigste werklike wetlike besetters van wat vandag die Wes-Kaap is, was - en derhalwe dat ander Afrika volke wat intussen inbeweeg en die gebied gedomineer het, as kolonilaiste van die Wes-Kaap beskou kan word.
-- Die Afrikaner was self ook die slagoffers van Europese imperialisme, toe die minerale rykdom van die land, en veral Brittanje se begeerte om dit te annekseer, gelei het tot twee oorloë, waarvan veral die Tweede Boereoorlog besonder wreedaardig was teenoor Afrikaners. Die groot probleem het ontstaan toe die Afrikaner nie wou leer uit hulle eie ondervindinge nie, en aan hulle Swart mede-landgenote gedoen het wat aan hulle gedoen was.
-- Dit is onmoontlik om die realiteit van driehonderd-en-vyftig tot vierhonderd jaar se geskiedenis nie in ag te neem wanneer oor hierdie aangeleentheid geargumenteer word nie. Vandag het die Afrikaner (en Blanke Suid-Afrikaners in die algemeen) geen ander tuiste as Afrika nie; die groep behoort aan, en bedryf die kulturele waardes en lewensuitkyk van die Westerse beskawing en kultuurkonteks, maar hulle fisiese leef en bestaanruimte is in Afrika, en dan spesifiek verbonde aan die geografiese grondgebied beken as Suid-Afrika. Dit is die “wit volk” van Suider Afrika. Daar is dikwels ʼn ongemaklike verhouding tussen Suider Afrika en sy wit volk, maar die realiteit daarvan kan nie deur enige party tot die argument ontken word nie. Om vir die Afrikaner te sê om terug te gaan Europa toe, is so goed as om vir ʼn Amerikaner of Australiër te sê om terug te gaan na waar sy of haar voorouers eeue gelede vandaan gekom het. Om binne sodanige konteks Blanke Suid-Afrikaners as ʼn “spesiale tipe kolonialis” te brandmerk of te klassifiseer is om sy mede-eienaarskap van die ʼn deel van Suider-Afrika te misken.
Bronne Geraadpleeg met die formulering van hierdie artikel
Bopela, T. (2012, June). Irreparable damage. Herwin van ANC Today: http://www.anc.org.za/docs/anctoday/2012/at22.htmJongisilo, P. Z. (2012, May 21). Customary law ‘under siege’. Herwin van The Star (on-line): http://www.iol.co.za/the-star/customary-law-under-siege-1.1300481#.VPYTVHyUeKUWikipedia. (nd, Afgelaai 2014). Clash of Civilisations. Herwin van Wikipedia, the free encyclopedia: http://en.wikipedia.org/wiki/Clash_of_CivilizationsWikipedia. (nd, Afgelaai Januarie 2015 09). Rwandan Genocide. Herwin van Wikipedia, the free encyclopedia: http://en.wikipedia.org/wiki/Rwandan_Genocide#Pre-colonial_kingdoms_and_origins_of_Hutu.2C_Tutsi_and_TwaWikipedia. (ongedateer, afgelaai 2014). Colonialism. Herwin van Wikipedia, the free encyclopedia: http://en.wikipedia.org/wiki/ColonialismWikipedia, the free encyclopedia. (nie gedateer, Afgelaai 2014). World War II. Herwin van Wikipedia, the free encyclopedia: http://en.wikipedia.org/wiki/World_War_II
Hierdie artikel was reeds in 2013 geskryf.
Prentjiebron: Pixabay
Comments